by Mariette Snyman (Taken from rooirosereis.co.za)
Toe die uitnoding na die loods van 1time se direkte vlugte na Mombasa, Kenia, vroeër vanjaar in my e-posmandjie beland, het ek allermins vermoed dit voorspel een groot, plesierige partytjie ... Mariette Snyman kyk terug
Die vliegtuig met sy parmantige rooi 1time logo vlieg onverstoord oor ’n baai wat met smaraggroen eilandjies bespikkel is. Ek kan dit nie help nie – die vooruitsig op ‘n onontdekte stuk aarde wat op my wag, maak die kort-voor-Kersfeesopwinding eie aan ‘n vyfjarige in my wakker. Om alles te vererger, word die 120 reis- en mediamense aan boord oor die luidspreker uitgenooi om te kom kyk hoe die stuurkajuit lyk. Ek wag ongeduldig tot daar ‘n gaping is en staan dan verstom oor die wye, blou ruimte wat voor die neus van die vliegtuig oopvou. Watter ervaring om ’n loods te wees met byna niks tussen jou en die oneindige lugruim nie …
Die Aardrykskundejuffrou van my laerskooldae het nagelaat om te sê dat Mombasa eintlik ‘n eiland is. By Mombasa International Airport voel dit of ons reg tussen die palms land. Weerskante van die aanloopbaan staan brandweerwaens gereed om ons vliegtuig behoorlik te doop. Dankie tog vliegtuigvenstertjies kan nie oopmaak nie.
Die Karibu- of verwelkomingseremonie vind net daar op die landingsbaan plaas. Soos dit met ‘n geskiedkundige gebeurtenis hoort, wag ons ‘n rukkie op die aankoms van die hooggeplaastes. Kenia se Minister van Toerisme, Najib Balala, voer die woord. Vir die eerste keer verstaan ek watter groot verwagtinge van hierdie nuwe lugroete gekoester word: ‘n toename in handel én toerisme na beide Suid-Afrika en Kenia. As ek terugdink aan die keer wat ek vanaf OR Tambo via Nairobi na Malindi, ook op die ooskus van Kenia, gereis het, begryp ek watter reuseverskil ‘n direkte vlug maak in terme van tyd, gemak en natuurlik koste.
Terwyl ons groen kokosneutmelk deur strooitjies suig, dans manne met vere in hul hooftooisels en jong vroue in kikhois meevoerend op die maat van dromme en slaginstrumente. Die meisies vou die kleurvolle materiaalstroke só dat dit parmantig om hul heupe staan. Ek verkyk my aan die sexygeit en selfvertroue waarmee hulle trap en skud en draai. Elkeen lyk vokome tuis in haar lyf. As ek weer ‘n slag kon terugkom aarde toe ...
Die verwondering het seker op my gesig geskrywe gestaan, want een van die voorbokke gryp my aan die hand om saam te dans. Ek is nou nog bly oor die tikkie vlugvoosheid wat na vier ure in die lug intree. Vlugvoosheid, kan ek dankbaar berig, werk verdowend op gevoelens van verleentheid in.
Die lugverkoelde rit na ons strandoord in Diani, ongeveer 40 km suid van Mombasa, duur om en by twee uur. Aanvanklik sukkel ek om te verstaan hoekom ons in die besigste dele van die stad pal agter ‘n loeiende ambulans beland, tot ek agterkom ons ry onder polisiebegeleiding! Die Indo-Arabiese styl van Mombasa is eksoties, en die vervalle geboue het ‘n eiesoortige bekoring. Die veerboot waarop ons, bus en al, gladweg deur die water gly, is ons eerste ervaring van sout seelug.
In die kusdorp Diani rek ek my nek vir die eerste blik op kremetarte langs die see. My grootwordjare in wat ons nou die Limpopo-provinsie noem, laat nog nie ruimte om dié twee verskynsels te versoen nie. PlanHotel se Neptune Resorts, waar ons tuisgaan, is in die Diani Chale Marine National Reserve geleë.
By Sandies Neptune Paradise Village, waar die meeste van ons oorslaap, is die muurlose voorportaal met sy hoë grasdak, gekerfde houtmeubels en oranje kussings ‘n koel oase. Marokkaanse lampe en stukke spoelhout, die geluid van water en sagte musiek laat my besluit: hier wil ek op my eie kom sit. Ons word met drankies en geurige handdoekies verwelkom. Watter tradisies het daartoe gelei dat blomme in hierdie geweste so argeloos rondgestrooi word?
Ons blyplek vorm deel van ‘n hoë wit huisie met ‘n palmblaardak, krultrappe en guitige balkonnetjies. Ons leer gou dat jy hier nie vensters ooplaat nie; die apies is kontant! Die lugreëling vergoed vir die seebriesie wat noodgedwonge buite moet bly. Die kamer is skoon, die beddegoed wit, die badprodukte geurig – kortom, dis die regte plek om uit te rus tussen die dae se talle bedrywighede.
Uit my beperkte ervaring van Kenia se strandoorde lyk dit asof slegs die restaurant- en swembadgedeeltes aan die strand grens, terwyl die wooneenhede dieper in lê, in tydlose tuine. Ek was gek na die Village se groot kremetarte waarin klimplante hulle duidelik tuis voel, omring deur palms, frangipani, bougainvillea, Indiese amandels en ander groot bome met meditatiewe stiltes in hul takke.
By die waterfront wag een blou swembad op die ander. Hier sou ek een oggend ‘n item op my bucket list, naamlik om op ‘n kroegstoeltjie binne-in ‘n swembad ‘n helderkleurige drankie te geniet, aftik. Die vriendelikheid van die kroegman was ‘n bonus.
En dan is daar die see, die see met haar baie kleure. Jy kan jou voete vol sand kry as jy wil, of neffens die wit strand op lêstoele op die welige kikuyu-gras onder palmblaardakkies ontspan.
Feesgeleenthede
Die drie aandetes – partytjies is eintlik die regte woord – wat ons tydens ons verblyf ervaar het, het ‘n spesiale plek in my herinneringe. Elke aand is ons by ‘n ander restaurant onthaal, en ons is in een woord verwen.
Ons eerste ervaring van dié plesierigheid was op ‘n soel, tropiese Vrydagaand. Ek onthou wit gedekte tafels, bruinpapierlanterns in die bome, en sterre tussen die palmtakke. ‘n Jazz band met die wonderlikste klank het opgetree; The lion sleeps tonight sal nooit weer só klink nie! Energieke, sensuele dansers het hul slag gewys, en daar was belly dancing tussen die tafels.
Om te sê daar was tafels vol kos, laat nie reg geskied aan die feesmaal nie. Daar was, om eerlik te wees, kosstasies. Alles is met flair voorgesit: voorgeregte, pasta, roerbraaigeregte, ‘n voorsnytafel vir die vleistande, seekos, groente en slaaie, nageregte, ‘n vrugtetafel met die mooiste gekerfde skeppings ... As jy wil, kan jy dit regtig oordoen. Ek het my aan die sjokolade-dekadensie oorgegee.
Die volgende aand was die tema „Eksoties“ en elkeen het ‘n kikhoi gekry om in op te dress. Die kreatiwiteit het in dik strome gevloei, maar die kos was weer eens indrukwekkender. Tussen boë van palmtakke en bougainvillea kon jy ekskursies na die sopstasie, broodstasie, braaivleisstasie, seekosstasie, tropiese vrugtestasie en nageregstasie onderneem. My gunsteling was die „African Pot“ waar tradisionele geregte soos gestoofde Muthokoi (rooi boontjies en droë wit mielies in tamatiesous), Mchicha (wilde Afrika-spinasie met rooi uie en knoffel gesoteer), Mhuogo (broodwortel in klappersous) en Matango (pampoen in kardemomsous) voorgesit is. Die brode het my gefassineer: Chapatti (pangebraaide Oos-Afrikaanse brood), Mahamri (Afrika-vetkoeke) en Kaimati (kardemomgegeurde kluitjies).
Tussendeur is daar musiek gemaak. Plaaslike akrobate het met vuur gespeel en teen ‘n onherbergsame stellasie opgeklim met geen ander hulp as hul armspiere nie. Ek weet nou nog nie of die toertjies wat jou soms jou asem laat ophou, ‘n goeie ding is by so ‘n partytjie nie. Sommige mense mag dalk sukkel om spanning, ryk geregte en Spaanse, Italiaanse en Suid-Afrikaanse wyne te kombineer.
Ons laaste aand was ‘n gala-aand by die elegante Diamonds Neptune Palm Beach. Die drag was formeel. Die luisterryke omgewing, kos en program het natuurlik nie van die avontuurlustiger feesgangers gekeer om pens en pootjies in die swembad te beland nie – darem eers ná die aanbiedings en toesprake.
Op die water
Intra Safaris het ons op ‘n daglange uitstappie na die Wasini-eiland geneem. Ek kon skaars wag – die onderwaterwonderwêreld langs die Keniaanse kus wat ek die vorige keer per snorkel verken het, was nog vars in my geheue.
Ná ons busrit in ‘n suidelike rigting, het ek die eerste keer voet aan boord van ‘n tradisionele dhow gesit. Dié een,genaamd Bushla, was weliswaar groter as wat ek verwag het, en toegerus met ‘n elektriese motor, koelsakke met eet- en drinkgoed, sagte kussings en snorkel- en duiktoerusting.
Op ons program is daar verwys na „dhow sailing” as “a tranquil step back in time.” Die see was nie baie kalm nie en ek moet maar so gou moontlik erken dat ek die eerste keer in my lewe seesiek was. Ek het heelparty buddies gehad; nie dat dit vir my tot troos was nie. Met tipies Keniaanse bedagsaamheid het ons bemanning ‘n motorbootjie opgekommandeer om seesiek-tablette na die dhow te bring, wat hier en daar ’n lewe gered het.
Ek kan dus nie met ‘n skoon gewete rapporteer dat dit ‘n tranquil journey was nie, maar die begeleide snorkelsessie naby ‘n piepklein eilandjie – of reuse-sandbank, ek wonder nou nog – waarop ander lede van ons groep die tyd verwyl het, was ’n ontmoeting met magiese seewesens in die silwergrys water. Daar was ook ‘n boot met ‘n glasbodem vir diegene wat die onderwaterbevolking wou beskou sonder om self nat te word.
Middagete by Charlie Claw’s op Wasini-eiland het groot byval gevind, veral die gestoomde krap in gemmersous. Dié wat nie ure lank sit en kuier het nie, het by die Lazy Lagoon Pool in die skadu van ‘n baie, baie ou kremetart gaan rondlê totdat dit tyd was om terug te gaan.
Die gholfspelers in die groep was in hul skik met die gholfkompetisie by ‘n naburige gholfbaan waar hulle op ons tweede en laaste vol dag hul vaardigheid ten toon kon stel. ‘n Staptog op die 11 km-lange strand met sy fynwit sand was vir my veel aanlokliker. En watter vreugde was dit nie! Daar is nie woorde vir die groen-groen see, die wind wat oor jou waai en die seevoëls in vlug nie – ure en ure daarvan, as jy die son kan weerstaan.
Ek mis nog die Keniaanse kaneelsuiker wat kennelik meer kaneel as suiker is. En natuurlik die pannekoekies waaroor jy dit kan strooi. Ek mis die eg koloniale koekies met teetyd, en die klank van Frans, Duits en Italiaans in en om die swembaddens. Al is ek lankal weer gewoond aan die vinnige Gautengse pas, bly die „pole, pole“ – stadig, stadig - van die Keniaanse ooskusboorlinge my by. In Diani stoot die see stilweg in en uit, en die wind waai sag. Dalk het dit iets te doen met die rustigheid van die mense en die sagtheid in hul oë.
Dis vir seker goed om af en toe van dié kalmte in Kenia te gaan haal. Of wild partytjie te gaan hou – nes die gees jou lei.
Nuwe direkte roete OR Tambo – Mombasa
Die eerste direkte vlugte tussen Johannesburg en Mombasa, Kenia se tweede grootste stad, het vandeesmaand afgeskop. 1time vlieg twee maal per week tussen OR Tambo Internasionale Lughawe en Mombasa International Airport. Die nuwe roete vul 1time se twee weeklikse vlugte na Zanzibar in Tanzanië en vyf weeklikse vlugte na Livingstone in Zambië aan.
Mombasa bied besoekers ‘n tropiese klimaat, watersport en gholf, en die nabygeleë Tsavo National Game Park.
Die eerste direkte vlugte tussen Johannesburg en Mombasa, Kenia se tweede grootste stad, het vandeesmaand afgeskop. 1time vlieg twee maal per week tussen OR Tambo Internasionale Lughawe en Mombasa International Airport. Die nuwe roete vul 1time se twee weeklikse vlugte na Zanzibar in Tanzanië en vyf weeklikse vlugte na Livingstone in Zambië aan.
Mombasa bied besoekers ‘n tropiese klimaat, watersport en gholf, en die nabygeleë Tsavo National Game Park.
Soos wat jy van 1time sou verwag, is die pryse uiters kompeterend. 1time voorsien weekliks tussen 200 en 300 passassiers op die nuwe roete.
Diamonds Neptune Palm Beach en Sandies Neptune Paradise Village
Die PlanHotel-groep het Diamonds Neptune Palm Beach en Sandies Neptune Paradise Village onlangs oorgeneem. Hulle beplan talle vernuwings en verbeterings, maar met ons ter perse gaan lyk die prentjie so:Die all inclusive concept verminder onvoorsiene kostes. Jou verblyf sluit ’n verwelkomingsdrankie, drie etes per dag plus versnaperinge in, asook koeldrank, vrugtesap, bier, huiswyn, water, tee en koffie tydens restaurant- en kroegure. Vermaak, strandhanddoeke en lêstoele is ook gratis. Daar is verskeie restaurante om uit te kies, afhangende van waar jy tuisgaan. As jy in die duurder oorde bly, kan jy ook by die goedkoper oorde eet. Sommige spesialisgeregte vereis bybetalings.
Daar is meer om te doen as wat die dag ure het! Dink aan boogskiet, vlugbal op die strand, tafeltennis, biljart, fietsry, tennis (twee spreiverligte bane), gholf, swem, seilplankry, snorkel, skubaduik, diepseehengel, en selfs ‘n kokosneutgooi-kompetisie.
Konferensiegeriewe is beskikbaar.
Die spa bied ‘n verskeidenheid behandelings aan. Daar is ‘n boetiekwinkeltjie vir aandenkings en geskenke.
Konferensiegeriewe is beskikbaar.
Die spa bied ‘n verskeidenheid behandelings aan. Daar is ‘n boetiekwinkeltjie vir aandenkings en geskenke.
Reiswenke
Die amptelike taal is Kiswahili, maar Engels is algemeenDie geldeenheid is die Keniaanse shilling
Keniatyd is +3 GMT (SA is +2)
Suid-Afrikaanse paspoorthouers het nie visums nodig nie
Jy het ’n geldige geelkoorssertifikaat nodig om weer in Suid-Afrika toegelaat te word
Tref malariavoorkomingsmaatreëls
Moenie kraanwater drink nie
Elektriese krag is 240V/50Hz en reghoeklem-kragproppe word gebruik
Pak ligte klere in, veral katoen. Denim is te warm! Beskerm stukkies vel wat uitsteek teen die son en muskiete. Sommige oorde verkies dat mans saans langbroeke dra.
Saterdae is sommige winkels toe (’n Moslemgebruik) en Sondae ander
Kyk uit vir seepsteen- en houtsneewerk, Masai-juweliersware, batik, plakkies met
kralewerk, veelkleurige kikois (die Oos-Afrikaanse antwoord op die sarong, met ’n magdom gebruike), koffie en tee.
Februarie en Maart is baie warm en vogtig. In April tot Junie is dit die reënseisoen, en van Oktober tot Desember reën dit by tye.
Pictures by/ fotos deur: Juan Nel
No comments:
Post a Comment